Wednesday, August 1, 2018

Familie met vakansie





Ek dink dat die Here oortyd besig was met my gesin. Hy het engele aan diens gestel om te waak oor ons huis as my ma van pure uitputting aan die slaap geval het en nie die deure gesluit het nie. Hy het die belastingman laat uitbetaal as my ma op haar laaste twee sent vir die maand was. Hy het ons ‘n vreemde, maar sorgsame familie gegee wat ons ondersteun het as die lewe sy streke uitgeoefen het.  Hy het ons ook vergesel op vakansies wat Hom seker laat lag het, maar ook met verligting laat slaak het as ons uiteindelik weer tuis is.

Ons het altyd ons reise begin met ‘n gebed. As jy my ma was, was daar baie om voor te bid: Eerstens, ‘n veilige reis met geen ongelukke nie en gunstige weersomstandighede. Tweedens, kinders wat hulle plek ken en nie te veel baklei op die agterste bank nie. Laastens dat die geld hou en dat al die verwagtinge van haar vier engeltjies ontmoet word. Dit was vir my ma belangrik dat ons blootgestel word aan die wêreld om ons en ‘n goeie algemene kennis opbou. Sy wou ons op ‘n reis deur die land vat, maar daar was geen manier wat haar ouers haar op haar eie met haar vier klein bloedjies sou laat reis nie. My ouma het gevolglik besluit dat my ma ons kon neem, maar dat sy en my oupa ons sou vergesel. Nou sien, net daar is nog ‘n rede vir ‘n gebed.

My ouma het die reis haarfyn beplan en my oupa en ma moes inval by haar planne. Ons sou ‘n reis van Durban na Kaapstad onderneem en ‘n paar opvoedkundige stoppe op die pad soentoe en terug maak. Ons is in twee motors verdeel en in die een meer luukse motor het my oupa, ma, oudste suster en jongste gestremde sussie gery. In my ouma se Volla was dit my ouma, natuurlik, my middelsus en ek. Ek moes agter, naby die enjin sit. By Van Reenen het teëspoed ons getref, daar was fout met een van die liggies in die luukse motor.  Ons het uitgeklim en ontbyt geëet. Ons was teleurgetseld en my Ma nog meer, want die fantastiese vakansie waarop sy haar kinders sou neem, was aan flarde. Met ingryping van bo het my Ouma voorgestel dat ons vrouens die reis verder onderneem in die Volla en my Oupa sou die probleem met die ander motor probeer uitsorteer en ons dan inhaal.

Dit was ‘n geweldige stywe sit. My ouma en Ma voor en agter ons vier susters.  Die oudste twee het die plekke langs die vensters gedeps en ek het in die middel gesit met my jongste sussie op my skoot. Daar was nie lugreëling in die motor nie. Dit was knap en warm. My ouma het na Wolwedans in die Skemer en toe daarna na Agent K, dubbel O, S oor Springbokradio geluister. In Bloemfontein het ons by die Vroue Monument gestop. Ons het styf en krom uit die motor geklim. My agterstewe was half verlam van die gewig van my sussie al die pad op my hê.  Die Vroue Monument was vir my spesiaal, want dis toe wat my ouma ons vertel het dat haar ma, Nanny, soos sy geken was, se hele gesin in die konsentrasiekampe gesterf het. Ek was jonk, en nog nie bewus van al die dinamikas aan die werk in die politiek nie, maar steeds jonk of nie is my identiteit as Suid-Afrikaner deur daardie besoekie gevorm. Ek was bewus dat mense gesterf het vir hulle bestaan in hierdie land en dat dit nie net mense was nie, maar familie.

Na ‘n lang dag se ry het ons styf, moeg en krapperig by ons eerste oornagpunt in Edenburgh naby die Verwoerddam (vandag Gariepdam) aangekom. Ons het nie geweet of my oupa reggekom het nie. Ons was nie seker of die reis van bykans twee weke regtig in daardie Volla onderneem kon word nie. Ons was egter lus vir ‘n lekker aand se rus. Ek, my susters en my ouma is in een kamer in, want sou my oupa laataand daar aankom, sal hy dan nie my ouma se rus onderbreek nie.  Dit was hoe daar geredeneer is. Dit het nie heeltemal so uitgewerk nie, want ons kamer het bestaan uit een enkelbed en twee bunkbeddens en hulle het gekraak en gekerm en gekreun, soos mens op hulle lê en draai. Kort-kort het my ouma opdrag gegee dat ons moet stillê, maar dit het gevoel dat daardie duiwelsbeddens kreun sommer net as jy asemhaal. Teen twaalf het my ouma ons almal soos ‘n sersant-majoor uit die bed en ons laat bedmaak op die vloer. Sy het ‘n nota gemaak om die  volgende dag die bestuurder hieroor te verwittig en sommer te dreig dat sy die res van die land ook daaroor sal inlig.

My oupa het eenuur die oggend daar opgedaag en pootuit in die bed geklim. Ons was almal verlig om hom te sien, want daardie rit in die Volla was nie iets wat ons weer voor kans gesien het nie.  Die reis kon in gemak voortgesit word... maar nie voor my ouma, geklee in ‘n boheemse kaftan die bestuurder onder oë geneem het nie. Baie te vrede met haarself en met ‘n paar rand se afslag later het sy in die kar geklim. Die reis is hervat. Ons besoek die Verwoerddam en ons loop op die muur van die dam. Dit was die grootste dam wat my negejarige ogies al gesien het. Ons ry verder en nou is fokus gestel op Beaufort-West. Iewers hoor ek dat daar weer ‘n drama is. Ons moes in Kaapstad kom daardie aand en die laaste punt waar ons die motors met petrol kon opvul, was in Beaufort en ons moes voor vyf daar wees, want dan maak die petrolstasies toe. My ouma en oupa was vies vir mekaar oor swak beplanning, maar daar was nie tyd vir vasstel wie die wenner in die argument is nie, want ons moes ry soos die wind. Soos, julle agterkom was dit belangrik dat ons, ons gebede gesê het en twintig voor vyf het ons gestop by ‘n Mobil petrolstasie, opgevul, gesigte gewas en ons was weer reg vir die laaste tog Kaapstad toe.

Weens ‘n gestry tussen my twee susters oor wie in die luukse kar ry en my oupa wat ‘n slapie wou vat, het my twee ouer susters saam met my ma in die luukse motor gery en ek saam met my ouma en oupa in die volla. As gevolg van hierdie indeling is ek ook by my ouma en oupa in ‘n hotelkamer ingedeel en ek sou by elke daar opvolgende stop saam met hulle slaap. Ek was vies. Ek was alleen met die oumense en sonder geselskap.  My twee ouer suster wat altyd baklei het, was steeds mekaar se beste maats en ek was alleen. Ek het net my gestremde sussie gehad en nou het hulle ook sommer gemaak asof hulle beter vir haar kan sorg. Vir lank was dit iets wat my gedagtes oorheers het. Ek het die kasteel gesien, deur die Tuine geloop en Kaappunt beleef, maar ek was steeds vies dat ek soos ‘n ou derde wiel aan die wa hanteer is en ook my maatjie verloor het.

Ons vier by die swembad
Daar was natuurlik rede dat my susters nie met ouma en oupa wou slaap nie. Hulle het gesnork!!! Hulle het beide op hulle ruggeslaap en gesnork, soms in gelid, maar meeste van die tyd in kanon. As die een wegtrek met die snork, blaas die ander een uit. Hulle het sag begin met ligte snorkies - vinnig, kort en onskuldig - maar dit het opgebou tot ‘n crescendo – in en uit en in en uit en in, dan nog so bietjie in en uit tot daar ‘n skielike onverwagse stilte oor hulle neergesak het. Netsoos jy wou opgewonde raak en dink dat jy nou daardie skape kan begin tel, hervat dit en jou skape hardloop weg. Jy lê daar magteloos, gemartel in die donkernag. Een nag in ons weeklange stop in Aliwal-Noord lê ek en Wilsons Peppermente eet in die bed terwyl my ouma-hulle snork. Dit was ‘n besonder besige snorkaand en ek kon nie die situasie ontvlug nie. Soos ek heerlik lê en knars-knars aan my peperment hoor ek my oupa bulder: “Wie is daardie bees wat so herkou?” Hoe op aarde kon hy my gekou hoor deur hulle gesnork en wie is hulle om my stil te maak na ek aand na aand wakker lê en bid vir die slaap om my te kom haal. Dit is toe wat ek besef dat as mens getroud is, is alles wat jou maat doen al so deel van jou dat jy nie hulle foute sien of gesnork hoor nie.

Ons het deur die Golden Gate area teruggery. Ek weet nie of mens mooier kry as dit nie. Ek het in tussen na lekker gespeel en geswem in Aliwal-Noord, vergeet van my wrewelrigheid. Daarbenewens het ek myself beter geag as my susters, want min mense sou die marteling wat ek deurleef het met soveel grasie kon hanteer, het ek gedink. Met middagete by ‘n hotel in die Golden Gate het my oupa ons slukkies van sy bier laat drink en ons het baie groot gevoel. Die vakansie was amper verby. Ons het oor die Drakensberge gery en weer aangesluit by die N3. ‘n Behaaglikheid pak jou beet as jy so ‘n reis van etlike dae agter die blad het en jy sien uit om weer tuis te kom. Tuis by jou hondjie, jou bedjie en jou klein bestaan, knus en veilig.

Dit was die eerste groot reis waarop my ma ons geneem het. Hierdie keer was onderworpe aan haar ouers se wil, maar soos ons ouer geword het, het sy ons op etlike vakansies Kaap toe, Nelspruit toe en Vrystaat toe gevat. Sy was nie bang nie. My ma was eintlik nooit bang nie, want sy het haar gebed gesê en gery in geloof. As haar vier kinders uiteindelik hulle plekke in die motor met ‘n geskuif, gestoot en gestry ingeneem het en sy haar voet op die pedaal gesit het, het avontuur gevolg, maar is daar ook  terselfder tyd ‘n span engele ontplooi om dit wat skeef is reg te maak en ons bewus te maak van die wonder van samesyn. As ek terugdink aan my posisie agter in die kar en ek sien my ma so sterk soos staal agter die stuur, my ousus voor op haar selfgeproklameerde plek, my middelsus al stotend en stampend aan my opsoek na nog spasie wat haar eintlik toekom en my jongste ou sussie wat krom teen my lê met kwyl wat tussen haar verstrengelde vingers deurloop, dan besef ek dat die gees vasgevang in daardie motor was een van Liefde, ‘n unieke liefde van bo.