Saturday, July 25, 2020

Sjoe!

Sjoe!



My dogter het verlede jaar die krag van die woordjie, sjoe, besing. Dit is so woordjie wat baie en terselfdertyd niks sê nie. Dit kan gebruik word as ‘n uitroep van vreugde en gemompel word as ‘n klaggesang. As jy na ‘n lang dag saam met vriende gaan sit en stadig aan jou tee teug, kan jy dit as ‘n sommer-netso-woord gebruik: “Sjoe...” En as ‘n antwoord: “Sjoe! Ja”

Sjoe is definitief die woord vir ons tyd.  Dit sê baie oor baie, maar kan nie in die hof teen jou gebruik word nie:

Wat sê jy oor 2020? “Sjoe! Ja, wat kan ek sê?...’Sjoe!’ “

Wat sê jy oor die sigarette en alkohol verbod? “Sjoe...”

Wat sê jy van die rassepolitiek in Suid-Afrika? Sjoe!

Wat sê jy oor party-politiek in Suid-Afrika?  Sjoe...

Is daar enige party wat die belange van die burgers van die land bo party-belange stel: “Sjoe, dit is ‘n vraag. Ja, Sjoe!”

Sjoe! Wat nou? Waarheen nou? Want soveel soos wat sjoe ‘n woordjie met veeldoelige gebruike is, vat dit ons nêrens heen nie. Dit is ‘n reaksie en nie ‘n aksie nie.

Sjoe! ... Wel vir nou tot die gesprek, die diskoers, die verandering in ons begin opwel en ons meer as “sjoe” nodig het om tevrede te wees, gaan ek verder aan my oggend koffie drink. ... En sjoe, ek gaan bly wees dit Moca Java en nie Ricoffy is nie. Sjoe! Ek gaan daakbaar wees dat ek bestandele kan gaan koop om ‘n resep te volg en nie’n  resep uitdink vir die bestandele wat ek het nie. Sjoe! Ek gaan waardeer dat, vir nou, ek ‘n dak oor my kop het, klere aan my lyf het, ‘n maat, drie dogters en twee honde in my lewe het.

Sjoe... op hierdie Sondagoggend gaan ek my nie bekommer oor die toekoms nie. Dit het gisteraand gereën en vanoggend is die hemel helder en skoon; die aarde gelukkig en gevoed. Sjoe! Die dag het ook weer aangebreek, soos gister en die dag daarvoor... en elke ander dag voor dit ver terug in die verlede, ver voor ek ‘n gedagte was. Om te dink die dag sal ook nog aanbreek in al die môres wat kom, dit sal nog aanbreek as ek reeds vergete soos stof saam met die wind waai.

Sjoe!

Saturday, May 2, 2020

Corona en Geskiedenisonderrig: Die Goeie en die Groteske


                                                                    

 As Geskiedenisonderwyser put ek baie stof uit die globale ervaring, stryd en hantering van die Covid 19 virus. Die virus maak my vak baie relevant. Geskiedenis is 'n vak wat deur baie as 'n sagte opsie of  'n stuk propaganda-gereedskap beskou word (iets wat dit wel is, as die onderwyser  onkundig is). Heel jaar sê ek vir my leerders: “Geskiedenis sê vir ons verandering kom, maar ons hoop dit wag net so rukkie.”

Ek kan Corona gebruik as ek Graad 10-geskiedenis behandel en vir die leerders die impak van die swart dood probeer verduidelik. Ek kan verduidelik hoe die samelewing, deur rotte en globale handel gelyk gemaak is en arbeidsverhouding verander het. Skielik het grondeienaars arbeiders gesoek en nodig gehad en het die wiele stadig begin draai in die rigting van ons edendaagse kapitalisme.

Ek kan Covid 19 gebruik as ek vir die leerders verduidelik van die Sosiale Kontrak en hoe daar 'n kontrak tussen die burgers en hulle staat moet wees - 'n kontrak van regte en verantwoordelikhede. Ek kan vir hulle verduidelik hoe die staat daar gestel is deur ONS om ons te dien en ons te beskerm. Die klas kan deur ‘n bespreking die slotsom bereik dat dit ons verantwoordelikheid is om die regverdige wetgewing te gehoorsaam. Volgens hierdie kontrak bestaan die staat nie, soos 'n koningshuis vir homself nie, om mag te bekom en sy burgers te gebruik om sy mag te verbreed nie. ‘n Staat het nie die mag om met sy burgers te praat soos dom en onverantwoordelike kinders nie. Die verhouding tussen staat en burgers is eintlik verweef in 'n web van gelykheid. Maar oeps! daar was daardie Komitee van Publieke Veiligheid, wat 'n sogenaamde bedreiging van buite gebruik het om "bossies" te gaan, gelykheid en regte op te hef en almal se koppe af te kap. Covid help ook om hierdie stukkie geskiedenis te verhelder, 'n handige virussie kan in 'n oogwink die verhouding tussen burger en staat verander en al hoe hierdie verhouding weer normaliseer, is as die walglike smagting na mag homself opgevreet het – ‘n duur les wat Robespierre geleer het, soos sy kop ook in die mandjie ingerol het.

Sjoe! en hoe help die Corona-era nie om die Groot Depressie aan die Graad-11’s te verduidelik nie, die skielike stilstand in die ekonomie, die werkloosheid en die honger. Die krotbuurtes en die verval van die kapitalistiese stelsel tot 'n toestand waar mens nie meer geld vertrou nie, voel ons ook nou terwyl ons op die ashoop van die wêreld se ekonomie sit. Ons het ook tans begrip vir die mensdom in die 1930’s se ervaring van teen ‘n ongesiene vyand baklei. Dan FDR se hulp, herstel en hervorming leer ons dat Ramaphosa ook met van die grotes uit die geskiedenis gekonsulteer het as hy sy fire-side chats met ons om agt die aand hou.  FDR het noodmagte verkry om met staatsintervensie en hulpprogramme, soos in ‘n oorlog, teen die vyand van ekonomiese verval te baklei. Maar, selfs hy moes deur 'n waaksame demokrasie en grondwet weerhou word van 'n diktaktoriale rol aanneem. Ten minste het FDR die verkoop van drank gewettig! Ongelukkig was dit nie FDR nie, maar oorlog wat die ekonomie gered het! Wat ons daaruit leer, kan ons tans net oor bespiegel...

Dan China vir die Graad 12’s, o liewe! Hoe relevant is China nie. 'n Land wat weens stoksienige beleide 30 miljoen mense op 'n kol, laat sterf en geen Groot Sprong Vorentoe geneem het nie. Ek kan leerders die gevaar van anti-intellektualisme verduidelik en hoe dit later met ‘n Kulturele Revolusie nog so 20 miljoen laat sterf het en skole vir twee jaar tot ‘n stilstand gebring het.

As ons ooit wou gehad het dat ons geskiedenis tot rasse-solidariteit moet bydra, is dit nou. Wit-, Swart-, Bruin- en Indiër-leerders kan almal vandag aan hulle lywe die ervaringe van gewone swartmense tydens Apartheid en die noodtoestande voel. Ons het baie van dieselfde wetgewing wat deurgegee word, deur soortgelyke stoksienige ministers: aanklokreëls, 'n hardhandige weermag, onnodige arrestasies, 'n kleurslagboom, ens, ens.

Ek kan vir julle noem hoe die aanwend van die tegnologie vir onderwys en vir die voer van ons daaglikse lewe kan vergelyk word met die verandering van die Industriële Revolusie. Ek kan vir julle verduidelik hoe oormoed en selftevredenheid gelei het tot konflik soos die Eerste Wêreldoorlog, ek kan vertel van die Spaanse Griep, wat nog dodeliker was.

...EN ek kan julle vertel dat bewegings wat begin in die naam van die armes, jou moet laat sidder en soek vir skuiling (koes...hier kom ‘n Bolsjevis, kameraat!). Bykans nie een van daardie bewegings was werklik besorg oor die ARMES en ontmagtigdes nie. Hulle is gebruik as 'n handige middel om mag te bekom om daarna presies dieselfde behandeling as vroeër te kry. Hulle is gebruik om te werk, hulle is gelos om te sterf aan die honger, hulle is in arbeidskampe gegooi.

Laastens kan ek vir my klasse vertel dat die geskiedenis ons leer dat geen virus dieselfde dodelike impak op die mensdom gehad het as wat “begeesterde” mense, regerings se beleide en magstryde al gehad het.

Dus dankie Covid vir geskiedenis weer relevant maak!