Saturday, May 26, 2018

Om te gee


Om te gee: Die geval van die hande met geheue verlies.

Ek ry vanmiddag deur die gietende reën en dink aan die Bergrede en die oproep tot vyandsliefde:

Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.  Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor die wat reg doen en oor die wat verkeerd doen.  As julle net die liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag?   (Matt 5:43)

Ek dink dat God vir ons so mildelik gee, sonder om te diskrimineer en sonder om terug te hou en toe dink ek aan my ouma, eintlik beide van hulle, maar spesifiek die hoogdrawende een. Sy het altyd die gewoonte gehad om as sy vir iemand iets gee te sê: My linkerhand weet nie wat my regterhand doen nie. Dit het my laat wonder wie gebruik nog sulke uitdrukkings wat praat oor hande met ernstige geheue verlies. Ek weet hierdie sêding, soos so baie outydse sêgoed het hulle oorsprong in die Bybel en ek weet ou mense het dit soms gebruik om hulself dalk net so klein bietjie meer edel en op die regte pad te laat klink, maar ek dink nie ons ly sommer vandag meer aan hande met geheue verlies nie, ons Gumtree alles.  Ons vrygewigheid is die feit dat ons iets vir ‘n winskopie kan verkoop.

Of miskien is ek bietjie hard op my eie geslag, want is dit eintlik moontlik om te kan gee sonder om te onthou of rekord te hou? Sommige van julle gaan onmiddellik vir my sê dat dit geen probleem vir julle is nie.  Julle gee julle tiende ensomeer. Maar my hoogdrawende ouma het graag gegee en baie gegee. Sy het voorwaar baie vir ons gedoen, veral toe ons studente was, ek dink meer as vir die ander kleinkinders. As ons haar bedank het vanuit die diepste hoeke van ons hart het sy altyd gesê dat ons nie hoef te bekommer nie, want haar linkerhand weet nie wat haar regterhand doen nie. Dit moes ons gerusgestel het, maar ons het altyd gevoel dat al onthou haar hande dit nie, moes ons onthou hoe vrygewig sy was. Dit het ontvang moeilik gemaak.

Sy was altyd aan die beplan vir wie sy wat sal gee en haar grootste troefkaart van vrygewigheid was haar boedel.  Klaarblyklik is daar in haar familie vreeslik baie baklei oor die boedel van die afgestorwene.  Sy het verklaar dat dit benede haar is om oor sulke goed te baklei. Ek dink dit was, maar wat haar werklik met plesier gevul het, was die gedagte dat mense oor haar goedjies sal baklei.  Sy was so opgewonde daaroor dat ek Saterdag na Saterdag, wat ek gegaan het om broodnodige proviant te kry, moes aanhoor hoe sy hierdie teestel aan dié een gaan los en daardie teestel aan daardie een. Sy het om die waarheid te sê die teestelle gaan koop, sodat sy hulle eendag in haar boedel kan bemaak; sy het dit nooit gebruik nie.  So het ek geweet, wie wat gaan kry. Met haar afsterwe en die verdeling van die boedel het die teestelle verdwyn. Ek weet nie wie dit uiteindelik gekry het nie, want dit was benede my om gepla te wees. Tog moes haar linker- en regterhand dalk net meer gepla gewees het en dan het ek en sy dalk een koppie tee saam uit die beloofde teestel gedrink...

Natuurlik gaan gee saam met ontvang, as jy wil gee moet jy kan ontvang. Dit bring my by die ander outydse sêding, naamlik om ander in die oë te kyk. Hier kom my ander, meer plat op die aarde ouma in die prentjie.  Ek dink haar linkerhand het deeglik boekgehou van wat haar regterhand gedoen het.  Sy sou gee, maar daar moes balans wees tussen wat sy gee en jy gee. Die ekwilibrium moes nie versteur word nie, want die een moes die ander in die oë kon kyk. Sy het nooit daarvan gehou as sy jou iets geskuld het nie. As jy vir haar ‘n bottel Coca Cola gaan koop het vir R15.90 en sy het net R 15.80, sou sy dit nie aanvaar as jy haar van die 10 sent vryskeld nie.  Sy sou die volgende dag kom en haar skuld regmaak, selfs al moes sy tien afsonderlike eensentstukke daar voor jou aftel. Alles moes verreken kon word.  Ek weet die idee van jou skuld ten volle betaal kom ook uit die Bybel uit, maar soms moet mens net aanvaar dat ‘n ander wou gaaf wees.

Die vraag is seker na ek my twee oumas so krities bespreek het, waar staan ek op die kwessie van gee en ontvang. Ek... wel vir my is dit nie altyd so maklik om te gee nie.  Ek gee graag as ek iets het wat ek nie nodig het nie, maar moeilik as dit kom by die laaste twee lekkers in die pakkie. Julle moet my nie misverstaan betreffende my twee oumas nie, want eintlik staan hulle verhouding met gee en ontvang, in verhouding met ‘n jeug van arm groot word en nie het nie. My hoogdrawende ouma, was een van twaalf kinders (kan jy jouself indink...) in die tydperk van die armblanke vraagstuk. Dit was die tyd van welsyn, kospakkies en kleertjies uit meelsakkies.  Sy het vertel hoe sy die melk wat sy by die skool gekry het, gespaar het sodat haar ma melk in haar tee kon drink. Miskien het die bevrediging van so ‘n kosbare geskenk gee,  haar begeerte om te gee versterk. My plat op die aarde ouma het uit ‘n geskeide huis gekom. Haar ma was die enigste oorlewende van haar gesin wat dit uit die konsentrasiekampe gemaak het. Skindertonge moes geklap het oor die sondige vrou en haar drie kinders wat daar in die werkersklasarea van die Bluff gewoon het.  Nie een van my twee oumas wou graag bakhand of met die hoed in die hand staan nie. Hulle wou hulle kop omhoog hou en die wêreld in die oë kyk.

Sjoe! Na ek hierdie stuk geskryf het en deur ‘n paar Afrikaanse idiome beweeg het, het ek besef dat om te gee soveel meer is as om bloot eiendom of fisiese stukke te oorhandig.  Hoe ons gee vertel iets van wie ons is en waar ons vandaan kom.  Dit vertel iets van ons stryd om oorlewing, oor ons behoefte om ander bly te maak en ja, tog ons eie behoefte om spesiaal te voel. Om te gee, is eintlik, om ander so lief soos jouself te hê. Dus as ons volgende keer in die reën ry of in die son staan en braai en speel, moet ons onthou dat dit is hoe lief God die wêreld het, dat Hy gee sonder onderskeid...