Om te gee: Die geval van die hande met geheue verlies.
Ek ry vanmiddag
deur die gietende reën en dink aan die Bergrede en die oproep tot vyandsliefde:
Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en
julle moet bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van
julle Vader in die hemel. Hy laat immers
sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor die wat reg doen en oor
die wat verkeerd doen. As julle net die
liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? (Matt 5:43)
Ek dink dat God
vir ons so mildelik gee, sonder om te diskrimineer en sonder om terug te hou en
toe dink ek aan my ouma, eintlik beide van hulle, maar spesifiek die
hoogdrawende een. Sy het altyd die gewoonte gehad om as sy vir iemand iets gee
te sê: My linkerhand weet nie wat my regterhand doen nie. Dit het my laat
wonder wie gebruik nog sulke uitdrukkings wat praat oor hande met ernstige
geheue verlies. Ek weet hierdie sêding, soos so baie outydse sêgoed het hulle
oorsprong in die Bybel en ek weet ou mense het dit soms gebruik om hulself dalk
net so klein bietjie meer edel en op die regte pad te laat klink, maar ek dink
nie ons ly sommer vandag meer aan hande met geheue verlies nie, ons Gumtree
alles. Ons vrygewigheid is die feit dat
ons iets vir ‘n winskopie kan verkoop.
Of miskien is ek bietjie hard op
my eie geslag, want is dit eintlik moontlik om te kan gee sonder om te onthou
of rekord te hou? Sommige van julle gaan onmiddellik vir my sê dat dit geen
probleem vir julle is nie. Julle gee
julle tiende ensomeer. Maar my hoogdrawende ouma het graag gegee en baie gegee. Sy het
voorwaar baie vir ons gedoen, veral toe ons studente was, ek dink meer as vir
die ander kleinkinders. As ons haar bedank het vanuit die diepste hoeke van ons
hart het sy altyd gesê dat ons nie hoef te bekommer nie, want haar linkerhand
weet nie wat haar regterhand doen nie. Dit moes ons gerusgestel het, maar ons
het altyd gevoel dat al onthou haar hande dit nie, moes ons onthou hoe vrygewig
sy was. Dit het ontvang moeilik gemaak.
Sy was altyd aan
die beplan vir wie sy wat sal gee en haar grootste troefkaart van vrygewigheid
was haar boedel. Klaarblyklik is daar in
haar familie vreeslik baie baklei oor die boedel van die afgestorwene. Sy het verklaar dat dit benede haar is om oor
sulke goed te baklei. Ek dink dit was, maar wat haar werklik met plesier gevul
het, was die gedagte dat mense oor haar goedjies sal baklei. Sy was so opgewonde daaroor dat ek Saterdag
na Saterdag, wat ek gegaan het om broodnodige proviant te kry, moes aanhoor hoe
sy hierdie teestel aan dié een gaan los en daardie teestel aan daardie een. Sy
het om die waarheid te sê die teestelle gaan koop, sodat sy hulle eendag in
haar boedel kan bemaak; sy het dit nooit gebruik nie. So het ek geweet, wie wat gaan kry. Met haar
afsterwe en die verdeling van die boedel het die teestelle verdwyn. Ek weet nie
wie dit uiteindelik gekry het nie, want dit was benede my om gepla te wees. Tog
moes haar linker- en regterhand dalk net meer gepla gewees het en dan het ek en
sy dalk een koppie tee saam uit die beloofde teestel gedrink...
Natuurlik gaan gee saam met
ontvang, as jy wil gee moet jy kan ontvang. Dit bring my by die ander outydse
sêding, naamlik om ander in die oë te kyk. Hier kom my ander, meer plat op die aarde
ouma in die prentjie. Ek dink haar
linkerhand het deeglik boekgehou van wat haar regterhand gedoen het. Sy sou gee, maar daar moes balans wees tussen
wat sy gee en jy gee. Die ekwilibrium moes nie versteur word nie, want die een
moes die ander in die oë kon kyk. Sy het nooit daarvan gehou as sy jou iets
geskuld het nie. As jy vir haar ‘n bottel Coca Cola gaan koop het vir R15.90 en
sy het net R 15.80, sou sy dit nie aanvaar as jy haar van die 10 sent vryskeld
nie. Sy sou die volgende dag kom en haar
skuld regmaak, selfs al moes sy tien afsonderlike eensentstukke daar voor jou
aftel. Alles moes verreken kon word. Ek
weet die idee van jou skuld ten volle betaal kom ook uit die Bybel uit, maar
soms moet mens net aanvaar dat ‘n ander wou gaaf wees.
Die vraag is seker na ek my twee
oumas so krities bespreek het, waar staan ek op die kwessie van gee en ontvang.
Ek... wel vir my is dit nie altyd so maklik om te gee nie. Ek gee graag as ek iets het wat ek nie nodig
het nie, maar moeilik as dit kom by die laaste twee lekkers in die pakkie.
Julle moet my nie misverstaan betreffende my twee oumas nie, want eintlik staan
hulle verhouding met gee en ontvang, in verhouding met ‘n jeug van arm groot
word en nie het nie. My hoogdrawende ouma, was een van twaalf kinders (kan jy
jouself indink...) in die tydperk van die armblanke vraagstuk. Dit was die tyd
van welsyn, kospakkies en kleertjies uit meelsakkies. Sy het vertel hoe sy die melk wat sy by die
skool gekry het, gespaar het sodat haar ma melk in haar tee kon drink. Miskien
het die bevrediging van so ‘n kosbare geskenk gee, haar begeerte om te gee versterk. My plat op
die aarde ouma het uit ‘n geskeide huis gekom. Haar ma was die enigste
oorlewende van haar gesin wat dit uit die konsentrasiekampe gemaak het. Skindertonge
moes geklap het oor die sondige vrou en haar drie kinders wat daar in die
werkersklasarea van die Bluff gewoon het.
Nie een van my twee oumas wou graag bakhand of met die hoed in die hand
staan nie. Hulle wou hulle kop omhoog hou en die wêreld in die oë kyk.
Sjoe! Na ek hierdie stuk geskryf
het en deur ‘n paar Afrikaanse idiome beweeg het, het ek besef dat om te gee
soveel meer is as om bloot eiendom of fisiese stukke te oorhandig. Hoe ons gee vertel iets van wie ons is en
waar ons vandaan kom. Dit vertel iets
van ons stryd om oorlewing, oor ons behoefte om ander bly te maak en ja, tog
ons eie behoefte om spesiaal te voel. Om te gee, is eintlik, om ander so lief
soos jouself te hê. Dus as ons volgende keer in die reën ry of in die son staan
en braai en speel, moet ons onthou dat dit is hoe lief God die wêreld het, dat
Hy gee sonder onderskeid...

No comments:
Post a Comment