Sunday, July 1, 2018

Deur die lens van 'n oog gesien.


Ek het die week besoek gekry van ‘n vriendin – ‘n oud-kollega uit die verre noorde. Vir my is dit besonders, want hoewel ek al baie mense ontvang het aan huis was nie een van hulle my vriende nie, familie en my man se kollegas en vriende wel. Dus, dit was lekker dat iemand vir my kom kuier het. Ek wou haar tydjie so aangenaam as moontlik maak en haar na al die mooi plekkies in die omgewing vat. Aangesien sy graag na die wêreld deur die lens van ‘n kamera kyk, moes die plekke wat ons besoek het ook van so ‘n aard wees dat hulle vasgevang kon word. Ek was egter bekommerd of die breë omgewing nog enigsins foto-gereed was na die droogte. Niks het my voorberei op wat ek sou sien nie.

Vroeër vanjaar het ek iets geskryf oor die droogte in die Kaap en dat dit nie werklik net die water is wat opgedroog het nie, maar dat dit ook ons idees en ons vermoë tot selfvernuwing is wat opgedroog het. Soos Josef in sy droom voorspel het, het dit wel na sewe jaar weer begin reën en hoewel daar nog doemprofete onder ons is, wat dink die droogte sal nie gebreek word nie, weet meeste van ons saggies daar in ons onderbewussyn dat verligting uiteindelik gekom het. Die reën wat val is anderste.  Dit het vroeër as verlede jaar begin val en sagter.  Die druppels val nie in woede nie, maar in genade. Die reën val soos die woorde van ‘n ouer wat met ‘n kind praat na ‘n woede bui, sag en vergewensgesind, amper soos, kom ons probeer weer. Die natuur reaggeer op hierdie genade in dankbaarheid, dit glimlag, groei en gedy. Ek hoop dat die mensdom dieselfde waardering en nederigheid toon.

Groenigheid het elke heuwel en vlakte oortrek en plante wat vinnig hulle blom kan  voor die lente kan inkry, het aan die werk gespring. Die fynbos was ‘n bewys dat enigiets wat lewe, loutering nodig het om mooier en sterker as vroeër op te staan. Ek wat nie altyd ‘n natuurkyker is nie, was stoomgeslaan deur dit wat ek gesien het. Ek het my vriendin Bettysbaai toe gery, oor die Franschoekpas en by die Theewaterskloofdam verby. Dieselfde dam waarvan daar talle foto’s in ‘n kaal, brose en gekraakte toestand geneem is. Nou is die grond duidelik versadig met water en anti-sosiale plasse water lê los rond, maar ander vloei gesellig saam en laat die eens uitgeputte damvlak styg en nogmaals styg.

Ons rit was soos een in ‘n film. Jy trek weg en die tema musiek (voorsien deur my dogter) blêr hard in die motor, dan stop ons vinnig vir foto van die uitsig, die berg of die fynbos; spring weer terug in die motor, trek weg en die musiek hervat. Dit het ‘n hele paar keer gebeur. ‘n Mens ry heel anders as jy ry en op die uitkyk is vir kunstige afneembare tonele. Dit is effens moeilik, want almal se mooi is anders. Ek hou van ‘n toneel wat ‘n storie oproep, ‘n ander hou weer van ‘n toneel wat jou asem wegslaan en vir iemand anders, soos my ouma, moet daar altyd iemand bekend in die foto wees, sodat jy soos met ‘n maanlanding kan sê dat jy daar was. Gelukkig kon ons een van elke tipe skoot op die rit kry.

Die tog Bettysbaai toe was nie regtig my idee nie, want ek wou na Yzerfontein, maar my vriendin s’n. Sy het sentimentele redes gehad om daarheen te gaan en ek kon nie in haar pad staan nie. ‘n Jaar gelede in die knelling van die droogte het sy en haar broer haar pa se as in die Harold Potter Botaniestuin in Bettysbaai gestrooi. Hulle het daar ‘n spesiale en emosionele oomblik saamgedeel. Soos sy al vertel het, was haar pa ver van ‘n perfekte man (wie van ons is), maar hy was haar pa en sy afsterwe was soortvan in die middel van wat ‘n baie beproewende twee jaar vir haar was. Sy het afsluiting nodig gehad en ek het die voorreg gehad om dit moontlik te maak. Sy wou graag ‘n gedenkbankie vir haar pa in die tuin laat oprig en ons is daar in om die perfekte plek te soek. My kleintjie het heerlik langs die wandelpaadjies gespeel en soos ‘n feëtjie agter boomstomp en blaar weggekruip. Uiteindelik het ‘n mede-besoeker aan die botaniese tuin ‘n foto van ons voor die waterval geneem en dit was ‘n bewys dat ons daar was.



Ons het kuslangs teruggery.  Ek het soos James Bond gevoel wat al langs die kronkellende hange van die kus ry.  In die verte was Tafelberg sigbaar en die duiwel was daar weer aan die skaakspeel, want die rook van sy pyp het by die berghange afgerol. Onder ons het die koue seewater teen die klippe gebreek en seemeeue het periodiek verbygevlieg. Volgens my was dit ‘n fotografeerbare toneel. Ek het afgetrek by die eerste en beste klein strandjie. My vriendin, neuroties na sy vroeër vanjaar ‘n huisbraak oorleef het, was effens bang vir hierdie verlate inham. Haar vrees en herinneringe aan haar
ervaringe het in skrille kontras met die suiwere en ongekorrupteerde skoonheid van die kus gestaan. Dit is egter geleidelik gestil deur die rol van die branders. Heelwat asemrowende foto’s is by die klein strandjie geneem.

Ongelukkig is die beelde van die natuurskoon effens verdring toe ons deur die Strand, Somersetwes en uiteindelik Stellenbosch moes ry om by die huis te kom. Ai! Eens was hierdie mooi dorpies, maar nou is dit onder konstruksie, vol landgoede, golfbane en winkelsentrums.  Daar is te veel motors en te veel winkels en almal wil net nog ‘n kolletjie van die paradys koop, dat hulle nie kan sien dat die paradys lankal verlore is nie. Gelukkig het die Helshoogtepas weer skoner tonele opgelewer. Ons was amper weer tuis, nog net Paarl en dan Wellington.

Ek het haar op die laaste oggend van haar besoek by die Bainskloofpas opgevat – wat ‘n weggesteekte juweel! Daarna het ons die pad Doolhof toe gevat en by Welvanpas verbygery. Dit is ‘n beeldskone plaas.  Vir hierdie wynboer is kommersiële sukses nie ‘n punt op sy agenda nie en dit is hoekom die plaas en die omgewing nog natuurmooi is.  Doolhof self het baie vir die oog gebied. My vriendin het ‘n varkblom, wat alleen langs die pad geblom het afgeneem. Ek het weer die grondpad met die laning bome as die begin van ‘n ou Keur-fotoverhaal gesien. Weer eens wou my jongste net oral uitklim en haar verbeelding vlerke gee. Elke keer het ek haar teruggeroep en met ‘n strengstem in die kar in geboks, terug in die werklikheid in.

Ek moet my vriendin bedank, want ek was ook tydens haar besoekie weer ‘n besoeker in my eie omgewing, intens bewus van die skoonheid en die herlewing om my. Getrou aan myself is ek ook met ‘n tikkie hartseer gevul dat ons wat in hierdie mooi land bly nie altyd met mekaar oor die weg kan kom nie.  Daar is te veel praat oor besit van grond en alles wat mooi is. Ons wil in elke foto wees en ons vlag daar plant om te sê dat ons daar was en dit eintlik ons s’n is. Ons wil besit en bebou en geldmaak tot so ‘n mate dat ons die skoonheid vernietig. Ons kan nie net deel en geniet nie. Rykdom lê in die waarneming van die ongelooflike skoonheid en in jou verbeelding vlerke gee, soos ‘n kind, en gevoed terugkom na jy deur die tuin van Eden gestap het.

Vir nou sal ek egter dankbaar wees:  Dankbaar wees dat die reën nog nie ophou val het nie, dat die vlaktes in die plakkerskampe en op die setperke van die golfbane groen is. Dankbaar wees dat die voëltjies van tak tot tak kan vlieg en bessies eet. Dankbaar wees dat erdwurms bondeltjies grond opstoot en die grond voorberei vir die lente.  Dankbaar wees dat die bome verhale vertel van vrugbaarheid en oorlewing en nie van vlam en vlug nie. Ek gaan dankbaar wees vir goeie vriende en samesyn. Ek gaan nie vrees vir môre nie en ek gaan nie inkoop in haat en venyn nie, want wat ons het, het ons alles deur die genade.

2 comments:

  1. Ongelooflik spesiaal- soos altyd xx

    ReplyDelete
  2. Man ek mis jou. En ek is jaloers op Marié. Bly jy het dit geniet. Hou vir my 'n stukkie lekkerte. Ek kom een van die dae kuier.

    ReplyDelete