Groenigheid het elke heuwel en vlakte oortrek en plante
wat vinnig hulle blom kan voor die lente kan inkry, het aan die werk gespring. Die
fynbos was ‘n bewys dat enigiets wat lewe, loutering nodig het om mooier en
sterker as vroeër op te staan. Ek wat nie altyd ‘n natuurkyker is nie, was
stoomgeslaan deur dit wat ek gesien het. Ek het my vriendin Bettysbaai toe gery,
oor die Franschoekpas en by die Theewaterskloofdam verby. Dieselfde dam waarvan
daar talle foto’s in ‘n kaal, brose en gekraakte toestand geneem is. Nou is die
grond duidelik versadig met water en anti-sosiale plasse water lê los rond,
maar ander vloei gesellig saam en laat die eens uitgeputte damvlak styg en
nogmaals styg.
Ons rit was soos een in ‘n film. Jy trek weg en die tema
musiek (voorsien deur my dogter) blêr hard in die motor, dan stop ons vinnig
vir foto van die uitsig, die berg of die fynbos; spring weer terug in die motor,
trek weg en die musiek hervat. Dit het ‘n hele paar keer gebeur. ‘n Mens ry
heel anders as jy ry en op die uitkyk is vir kunstige afneembare tonele. Dit is
effens moeilik, want almal se mooi is anders. Ek hou van ‘n toneel wat ‘n
storie oproep, ‘n ander hou weer van ‘n toneel wat jou asem wegslaan en vir
iemand anders, soos my ouma, moet daar altyd iemand bekend in die foto wees,
sodat jy soos met ‘n maanlanding kan sê dat jy daar was. Gelukkig kon ons een
van elke tipe skoot op die rit kry.
Die tog Bettysbaai toe was nie regtig my idee nie, want ek
wou na Yzerfontein, maar my vriendin s’n. Sy het sentimentele redes gehad om daarheen
te gaan en ek kon nie in haar pad staan nie. ‘n Jaar gelede in die knelling van
die droogte het sy en haar broer haar pa se as in die Harold Potter
Botaniestuin in Bettysbaai gestrooi. Hulle het daar ‘n spesiale en emosionele
oomblik saamgedeel. Soos sy al vertel het, was haar pa ver van ‘n perfekte man
(wie van ons is), maar hy was haar pa
en sy afsterwe was soortvan in die middel van wat ‘n baie beproewende twee jaar
vir haar was. Sy het afsluiting nodig gehad en ek het die voorreg gehad om dit
moontlik te maak. Sy wou graag ‘n gedenkbankie vir haar pa in die tuin laat
oprig en ons is daar in om die perfekte plek te soek. My kleintjie het heerlik
langs die wandelpaadjies gespeel en soos ‘n feëtjie agter boomstomp en blaar
weggekruip. Uiteindelik het ‘n mede-besoeker aan die botaniese tuin ‘n foto van
ons voor die waterval geneem en dit was ‘n bewys dat ons daar was.
Ons het kuslangs teruggery. Ek het soos James Bond gevoel wat al langs die kronkellende hange van die kus ry. In die verte was Tafelberg sigbaar en die duiwel was daar weer aan die skaakspeel, want die rook van sy pyp het by die berghange afgerol. Onder ons het die koue seewater teen die klippe gebreek en seemeeue het periodiek verbygevlieg. Volgens my was dit ‘n fotografeerbare toneel. Ek het afgetrek by die eerste en beste klein strandjie. My vriendin, neuroties na sy vroeër vanjaar ‘n huisbraak oorleef het, was effens bang vir hierdie verlate inham. Haar vrees en herinneringe aan haar
ervaringe het in skrille kontras met die suiwere en ongekorrupteerde skoonheid van die kus gestaan. Dit is egter geleidelik gestil deur die rol van die branders. Heelwat asemrowende foto’s is by die klein strandjie geneem.
Ongelukkig is die beelde van die natuurskoon effens
verdring toe ons deur die Strand, Somersetwes en uiteindelik Stellenbosch moes
ry om by die huis te kom. Ai! Eens was hierdie mooi dorpies, maar nou is dit
onder konstruksie, vol landgoede, golfbane en winkelsentrums. Daar is te veel motors en te veel winkels en
almal wil net nog ‘n kolletjie van die paradys koop, dat hulle nie kan sien dat
die paradys lankal verlore is nie. Gelukkig het die Helshoogtepas weer skoner
tonele opgelewer. Ons was amper weer tuis, nog net Paarl en dan Wellington.
Ek het haar op die laaste oggend van haar besoek by
die Bainskloofpas opgevat – wat ‘n weggesteekte juweel! Daarna het ons die pad
Doolhof toe gevat en by Welvanpas verbygery. Dit is ‘n beeldskone plaas. Vir hierdie wynboer is kommersiële sukses
nie ‘n punt op sy agenda nie en dit is hoekom die plaas en die omgewing nog
natuurmooi is. Doolhof self het baie vir
die oog gebied. My vriendin het ‘n varkblom, wat alleen langs die pad geblom
het afgeneem. Ek het weer die grondpad met die laning bome as die begin van ‘n
ou Keur-fotoverhaal gesien. Weer eens wou my jongste net oral uitklim en haar
verbeelding vlerke gee. Elke keer het ek haar teruggeroep en met ‘n strengstem
in die kar in geboks, terug in die werklikheid in.
Ek moet my vriendin bedank, want ek was ook tydens haar
besoekie weer ‘n besoeker in my eie omgewing, intens bewus van die skoonheid en
die herlewing om my. Getrou aan myself is ek ook met ‘n tikkie hartseer gevul
dat ons wat in hierdie mooi land bly nie altyd met mekaar oor die weg kan kom
nie. Daar is te veel praat oor besit van
grond en alles wat mooi is. Ons wil in elke foto wees en ons vlag daar plant om
te sê dat ons daar was en dit eintlik ons s’n is. Ons wil besit en bebou en
geldmaak tot so ‘n mate dat ons die skoonheid vernietig. Ons kan nie net deel
en geniet nie. Rykdom lê in die waarneming van die ongelooflike skoonheid en in
jou verbeelding vlerke gee, soos ‘n kind, en gevoed terugkom na jy deur die
tuin van Eden gestap het.
Vir nou sal ek egter dankbaar wees: Dankbaar wees dat die reën nog nie ophou val
het nie, dat die vlaktes in die plakkerskampe en op die setperke van die
golfbane groen is. Dankbaar wees dat die voëltjies van tak tot tak kan vlieg en
bessies eet. Dankbaar wees dat erdwurms bondeltjies grond opstoot en die grond
voorberei vir die lente. Dankbaar wees
dat die bome verhale vertel van vrugbaarheid en oorlewing en nie van vlam en
vlug nie. Ek gaan dankbaar wees vir goeie vriende en samesyn. Ek gaan nie vrees
vir môre nie en ek gaan nie inkoop in haat en venyn nie, want wat ons het, het
ons alles deur die genade.



Ongelooflik spesiaal- soos altyd xx
ReplyDeleteMan ek mis jou. En ek is jaloers op Marié. Bly jy het dit geniet. Hou vir my 'n stukkie lekkerte. Ek kom een van die dae kuier.
ReplyDelete