Ek dink dat die Here oortyd besig was met my gesin. Hy het engele aan diens gestel om te
waak oor ons huis as my ma van pure uitputting aan die slaap geval het en nie
die deure gesluit het nie. Hy het die belastingman laat uitbetaal as my ma op
haar laaste twee sent vir die maand was. Hy het ons ‘n vreemde, maar sorgsame
familie gegee wat ons ondersteun het as die lewe sy streke uitgeoefen het. Hy het ons ook vergesel op vakansies wat Hom
seker laat lag het, maar ook met verligting laat slaak het as ons uiteindelik
weer tuis is.
Ons het altyd
ons reise begin met ‘n gebed. As jy my ma was, was daar baie om voor te bid:
Eerstens, ‘n veilige reis met geen ongelukke nie en gunstige
weersomstandighede. Tweedens, kinders wat hulle plek ken en nie te veel baklei
op die agterste bank nie. Laastens dat die geld hou en dat al die verwagtinge
van haar vier engeltjies ontmoet word. Dit was vir my ma belangrik dat ons
blootgestel word aan die wêreld om ons en ‘n goeie algemene kennis opbou. Sy
wou ons op ‘n reis deur die land vat, maar daar was geen manier wat haar ouers
haar op haar eie met haar vier klein bloedjies sou laat reis nie. My ouma het
gevolglik besluit dat my ma ons kon neem, maar dat sy en my oupa ons sou
vergesel. Nou sien, net daar is nog ‘n rede vir ‘n gebed.
My ouma het die
reis haarfyn beplan en my oupa en ma moes inval by haar planne. Ons sou ‘n reis
van Durban na Kaapstad onderneem en ‘n paar opvoedkundige stoppe op die pad
soentoe en terug maak. Ons is in twee motors verdeel en in die een meer luukse
motor het my oupa, ma, oudste suster en jongste gestremde sussie gery. In my
ouma se Volla was dit my ouma, natuurlik, my middelsus en ek. Ek moes agter, naby die enjin sit. By Van Reenen het teëspoed ons getref, daar was fout met
een van die liggies in die luukse motor.
Ons het uitgeklim en ontbyt geëet. Ons was teleurgetseld en my Ma nog
meer, want die fantastiese vakansie waarop sy haar kinders sou neem, was aan
flarde. Met ingryping van bo het my Ouma voorgestel dat ons vrouens die reis
verder onderneem in die Volla en my Oupa sou die probleem met die ander motor
probeer uitsorteer en ons dan inhaal.
Dit was ‘n geweldige stywe sit.
My ouma en Ma voor en agter ons vier susters.
Die oudste twee het die plekke langs die vensters gedeps en ek het in
die middel gesit met my jongste sussie op my skoot. Daar was nie lugreëling in
die motor nie. Dit was knap en warm. My ouma het na Wolwedans in die Skemer en toe daarna na Agent K, dubbel O, S oor Springbokradio geluister. In Bloemfontein
het ons by die Vroue Monument gestop. Ons het styf en krom uit die motor
geklim. My agterstewe was half verlam van die gewig van my sussie al die pad op
my hê. Die Vroue Monument was vir my
spesiaal, want dis toe wat my ouma ons vertel het dat haar ma, Nanny, soos sy
geken was, se hele gesin in die konsentrasiekampe gesterf het. Ek was jonk, en
nog nie bewus van al die dinamikas aan die werk in die politiek nie, maar
steeds jonk of nie is my identiteit as Suid-Afrikaner deur daardie besoekie
gevorm. Ek was bewus dat mense gesterf het vir hulle bestaan in hierdie land en
dat dit nie net mense was nie, maar
familie.
Na ‘n lang dag se ry het ons
styf, moeg en krapperig by ons eerste oornagpunt in Edenburgh naby die
Verwoerddam (vandag Gariepdam) aangekom. Ons het nie geweet of my oupa reggekom
het nie. Ons was nie seker of die reis van bykans twee weke regtig in daardie Volla
onderneem kon word nie. Ons was egter lus vir ‘n lekker aand se rus. Ek, my
susters en my ouma is in een kamer in, want sou my oupa laataand daar aankom,
sal hy dan nie my ouma se rus onderbreek nie.
Dit was hoe daar geredeneer is. Dit het nie heeltemal so uitgewerk nie,
want ons kamer het bestaan uit een enkelbed en twee bunkbeddens en hulle het
gekraak en gekerm en gekreun, soos mens op hulle lê en draai. Kort-kort het my
ouma opdrag gegee dat ons moet stillê, maar dit het gevoel dat daardie
duiwelsbeddens kreun sommer net as jy asemhaal. Teen twaalf het my ouma ons
almal soos ‘n sersant-majoor uit die bed en ons laat bedmaak op die
vloer. Sy het ‘n nota gemaak om die volgende dag die bestuurder hieroor te
verwittig en sommer te dreig dat sy die res van die land ook daaroor sal inlig.
My oupa het eenuur die oggend
daar opgedaag en pootuit in die bed geklim. Ons was almal verlig om hom te
sien, want daardie rit in die Volla was nie iets wat ons weer voor kans gesien
het nie. Die reis kon in gemak
voortgesit word... maar nie voor my ouma, geklee in ‘n boheemse kaftan die bestuurder
onder oë geneem het nie. Baie te vrede met haarself en met ‘n paar rand se
afslag later het sy in die kar geklim. Die reis is hervat. Ons besoek die
Verwoerddam en ons loop op die muur van die dam. Dit was die grootste dam wat my
negejarige ogies al gesien het. Ons ry verder en nou is fokus gestel op Beaufort-West.
Iewers hoor ek dat daar weer ‘n drama is. Ons moes in Kaapstad kom daardie aand
en die laaste punt waar ons die motors met petrol kon opvul, was in Beaufort en
ons moes voor vyf daar wees, want dan maak die petrolstasies toe. My ouma en
oupa was vies vir mekaar oor swak beplanning, maar daar was nie tyd vir vasstel
wie die wenner in die argument is nie, want ons moes ry soos die wind. Soos,
julle agterkom was dit belangrik dat ons, ons gebede gesê het en twintig voor
vyf het ons gestop by ‘n Mobil petrolstasie, opgevul, gesigte gewas en ons was weer
reg vir die laaste tog Kaapstad toe.
Weens ‘n gestry tussen my twee
susters oor wie in die luukse kar ry en my oupa wat ‘n slapie wou vat, het my
twee ouer susters saam met my ma in die luukse motor gery en ek saam met my
ouma en oupa in die volla. As gevolg van hierdie indeling is ek ook by my ouma
en oupa in ‘n hotelkamer ingedeel en ek sou by elke daar opvolgende stop saam
met hulle slaap. Ek was vies. Ek was alleen met die oumense en sonder
geselskap. My twee ouer suster wat altyd
baklei het, was steeds mekaar se beste maats en ek was alleen. Ek het net my
gestremde sussie gehad en nou het hulle ook sommer gemaak asof hulle beter vir
haar kan sorg. Vir lank was dit iets wat my gedagtes oorheers het. Ek het die
kasteel gesien, deur die Tuine geloop en Kaappunt beleef, maar ek was steeds vies
dat ek soos ‘n ou derde wiel aan die wa hanteer is en ook my maatjie verloor
het.
![]() |
| Ons vier by die swembad |
Daar was natuurlik rede dat my
susters nie met ouma en oupa wou slaap nie. Hulle het gesnork!!! Hulle het
beide op hulle ruggeslaap en gesnork, soms in gelid, maar meeste van die tyd in
kanon. As die een wegtrek met die snork, blaas die ander een uit. Hulle het sag
begin met ligte snorkies - vinnig, kort en onskuldig - maar dit het opgebou tot
‘n crescendo – in en uit en in en uit en in, dan nog so bietjie in en uit tot
daar ‘n skielike onverwagse stilte oor hulle neergesak het. Netsoos jy wou
opgewonde raak en dink dat jy nou daardie skape kan begin tel, hervat dit en
jou skape hardloop weg. Jy lê daar magteloos, gemartel in die donkernag. Een
nag in ons weeklange stop in Aliwal-Noord lê ek en Wilsons Peppermente eet in
die bed terwyl my ouma-hulle snork. Dit was ‘n besonder besige snorkaand en ek
kon nie die situasie ontvlug nie. Soos ek heerlik lê en knars-knars aan my
peperment hoor ek my oupa bulder: “Wie is daardie bees wat so herkou?” Hoe op
aarde kon hy my gekou hoor deur hulle gesnork en wie is hulle om my stil te
maak na ek aand na aand wakker lê en bid vir die slaap om my te kom haal. Dit
is toe wat ek besef dat as mens getroud is, is alles wat jou maat doen al so
deel van jou dat jy nie hulle foute sien of gesnork hoor nie.
Ons het deur die Golden Gate area
teruggery. Ek weet nie of mens mooier kry as dit nie. Ek het in tussen na
lekker gespeel en geswem in Aliwal-Noord, vergeet van my wrewelrigheid.
Daarbenewens het ek myself beter geag as my susters, want min mense sou die
marteling wat ek deurleef het met soveel grasie kon hanteer, het ek gedink. Met
middagete by ‘n hotel in die Golden Gate het my oupa ons slukkies van sy bier
laat drink en ons het baie groot gevoel. Die vakansie was amper verby. Ons het
oor die Drakensberge gery en weer aangesluit by die N3. ‘n Behaaglikheid pak
jou beet as jy so ‘n reis van etlike dae agter die blad het en jy sien uit om
weer tuis te kom. Tuis by jou hondjie, jou bedjie en jou klein bestaan, knus en
veilig.
Dit was die eerste groot reis
waarop my ma ons geneem het. Hierdie keer was onderworpe aan haar ouers se wil,
maar soos ons ouer geword het, het sy ons op etlike vakansies Kaap toe,
Nelspruit toe en Vrystaat toe gevat. Sy was nie bang nie. My ma was eintlik
nooit bang nie, want sy het haar gebed gesê en gery in geloof. As haar vier
kinders uiteindelik hulle plekke in die motor met ‘n geskuif, gestoot en gestry
ingeneem het en sy haar voet op die pedaal gesit het, het avontuur gevolg, maar
is daar ook terselfder tyd ‘n span engele ontplooi om dit wat skeef is reg te maak en ons
bewus te maak van die wonder van samesyn. As ek terugdink aan my posisie agter
in die kar en ek sien my ma so sterk soos staal agter die stuur, my ousus voor op
haar selfgeproklameerde plek, my middelsus al stotend en stampend aan my opsoek
na nog spasie wat haar eintlik toekom en my jongste ou sussie wat krom teen my
lê met kwyl wat tussen haar verstrengelde vingers deurloop, dan besef ek dat
die gees vasgevang in daardie motor was een van Liefde, ‘n unieke liefde van
bo.


Dis pragtig Karen!Baie snaaks. En laat mens terugdink aan jou eie gesinsvakansies. Ook vier sussies en nog 'n broer daarby. Die opwinding van kies tussen rooi, oranje, groen of die ultimate indien dit beskikbaar was - PERS- koeldrank in die keffie langs die pad. Jy onthou lieflike detail.
ReplyDelete