Wednesday, August 1, 2018

Familie met vakansie





Ek dink dat die Here oortyd besig was met my gesin. Hy het engele aan diens gestel om te waak oor ons huis as my ma van pure uitputting aan die slaap geval het en nie die deure gesluit het nie. Hy het die belastingman laat uitbetaal as my ma op haar laaste twee sent vir die maand was. Hy het ons ‘n vreemde, maar sorgsame familie gegee wat ons ondersteun het as die lewe sy streke uitgeoefen het.  Hy het ons ook vergesel op vakansies wat Hom seker laat lag het, maar ook met verligting laat slaak het as ons uiteindelik weer tuis is.

Ons het altyd ons reise begin met ‘n gebed. As jy my ma was, was daar baie om voor te bid: Eerstens, ‘n veilige reis met geen ongelukke nie en gunstige weersomstandighede. Tweedens, kinders wat hulle plek ken en nie te veel baklei op die agterste bank nie. Laastens dat die geld hou en dat al die verwagtinge van haar vier engeltjies ontmoet word. Dit was vir my ma belangrik dat ons blootgestel word aan die wêreld om ons en ‘n goeie algemene kennis opbou. Sy wou ons op ‘n reis deur die land vat, maar daar was geen manier wat haar ouers haar op haar eie met haar vier klein bloedjies sou laat reis nie. My ouma het gevolglik besluit dat my ma ons kon neem, maar dat sy en my oupa ons sou vergesel. Nou sien, net daar is nog ‘n rede vir ‘n gebed.

My ouma het die reis haarfyn beplan en my oupa en ma moes inval by haar planne. Ons sou ‘n reis van Durban na Kaapstad onderneem en ‘n paar opvoedkundige stoppe op die pad soentoe en terug maak. Ons is in twee motors verdeel en in die een meer luukse motor het my oupa, ma, oudste suster en jongste gestremde sussie gery. In my ouma se Volla was dit my ouma, natuurlik, my middelsus en ek. Ek moes agter, naby die enjin sit. By Van Reenen het teëspoed ons getref, daar was fout met een van die liggies in die luukse motor.  Ons het uitgeklim en ontbyt geëet. Ons was teleurgetseld en my Ma nog meer, want die fantastiese vakansie waarop sy haar kinders sou neem, was aan flarde. Met ingryping van bo het my Ouma voorgestel dat ons vrouens die reis verder onderneem in die Volla en my Oupa sou die probleem met die ander motor probeer uitsorteer en ons dan inhaal.

Dit was ‘n geweldige stywe sit. My ouma en Ma voor en agter ons vier susters.  Die oudste twee het die plekke langs die vensters gedeps en ek het in die middel gesit met my jongste sussie op my skoot. Daar was nie lugreëling in die motor nie. Dit was knap en warm. My ouma het na Wolwedans in die Skemer en toe daarna na Agent K, dubbel O, S oor Springbokradio geluister. In Bloemfontein het ons by die Vroue Monument gestop. Ons het styf en krom uit die motor geklim. My agterstewe was half verlam van die gewig van my sussie al die pad op my hê.  Die Vroue Monument was vir my spesiaal, want dis toe wat my ouma ons vertel het dat haar ma, Nanny, soos sy geken was, se hele gesin in die konsentrasiekampe gesterf het. Ek was jonk, en nog nie bewus van al die dinamikas aan die werk in die politiek nie, maar steeds jonk of nie is my identiteit as Suid-Afrikaner deur daardie besoekie gevorm. Ek was bewus dat mense gesterf het vir hulle bestaan in hierdie land en dat dit nie net mense was nie, maar familie.

Na ‘n lang dag se ry het ons styf, moeg en krapperig by ons eerste oornagpunt in Edenburgh naby die Verwoerddam (vandag Gariepdam) aangekom. Ons het nie geweet of my oupa reggekom het nie. Ons was nie seker of die reis van bykans twee weke regtig in daardie Volla onderneem kon word nie. Ons was egter lus vir ‘n lekker aand se rus. Ek, my susters en my ouma is in een kamer in, want sou my oupa laataand daar aankom, sal hy dan nie my ouma se rus onderbreek nie.  Dit was hoe daar geredeneer is. Dit het nie heeltemal so uitgewerk nie, want ons kamer het bestaan uit een enkelbed en twee bunkbeddens en hulle het gekraak en gekerm en gekreun, soos mens op hulle lê en draai. Kort-kort het my ouma opdrag gegee dat ons moet stillê, maar dit het gevoel dat daardie duiwelsbeddens kreun sommer net as jy asemhaal. Teen twaalf het my ouma ons almal soos ‘n sersant-majoor uit die bed en ons laat bedmaak op die vloer. Sy het ‘n nota gemaak om die  volgende dag die bestuurder hieroor te verwittig en sommer te dreig dat sy die res van die land ook daaroor sal inlig.

My oupa het eenuur die oggend daar opgedaag en pootuit in die bed geklim. Ons was almal verlig om hom te sien, want daardie rit in die Volla was nie iets wat ons weer voor kans gesien het nie.  Die reis kon in gemak voortgesit word... maar nie voor my ouma, geklee in ‘n boheemse kaftan die bestuurder onder oë geneem het nie. Baie te vrede met haarself en met ‘n paar rand se afslag later het sy in die kar geklim. Die reis is hervat. Ons besoek die Verwoerddam en ons loop op die muur van die dam. Dit was die grootste dam wat my negejarige ogies al gesien het. Ons ry verder en nou is fokus gestel op Beaufort-West. Iewers hoor ek dat daar weer ‘n drama is. Ons moes in Kaapstad kom daardie aand en die laaste punt waar ons die motors met petrol kon opvul, was in Beaufort en ons moes voor vyf daar wees, want dan maak die petrolstasies toe. My ouma en oupa was vies vir mekaar oor swak beplanning, maar daar was nie tyd vir vasstel wie die wenner in die argument is nie, want ons moes ry soos die wind. Soos, julle agterkom was dit belangrik dat ons, ons gebede gesê het en twintig voor vyf het ons gestop by ‘n Mobil petrolstasie, opgevul, gesigte gewas en ons was weer reg vir die laaste tog Kaapstad toe.

Weens ‘n gestry tussen my twee susters oor wie in die luukse kar ry en my oupa wat ‘n slapie wou vat, het my twee ouer susters saam met my ma in die luukse motor gery en ek saam met my ouma en oupa in die volla. As gevolg van hierdie indeling is ek ook by my ouma en oupa in ‘n hotelkamer ingedeel en ek sou by elke daar opvolgende stop saam met hulle slaap. Ek was vies. Ek was alleen met die oumense en sonder geselskap.  My twee ouer suster wat altyd baklei het, was steeds mekaar se beste maats en ek was alleen. Ek het net my gestremde sussie gehad en nou het hulle ook sommer gemaak asof hulle beter vir haar kan sorg. Vir lank was dit iets wat my gedagtes oorheers het. Ek het die kasteel gesien, deur die Tuine geloop en Kaappunt beleef, maar ek was steeds vies dat ek soos ‘n ou derde wiel aan die wa hanteer is en ook my maatjie verloor het.

Ons vier by die swembad
Daar was natuurlik rede dat my susters nie met ouma en oupa wou slaap nie. Hulle het gesnork!!! Hulle het beide op hulle ruggeslaap en gesnork, soms in gelid, maar meeste van die tyd in kanon. As die een wegtrek met die snork, blaas die ander een uit. Hulle het sag begin met ligte snorkies - vinnig, kort en onskuldig - maar dit het opgebou tot ‘n crescendo – in en uit en in en uit en in, dan nog so bietjie in en uit tot daar ‘n skielike onverwagse stilte oor hulle neergesak het. Netsoos jy wou opgewonde raak en dink dat jy nou daardie skape kan begin tel, hervat dit en jou skape hardloop weg. Jy lê daar magteloos, gemartel in die donkernag. Een nag in ons weeklange stop in Aliwal-Noord lê ek en Wilsons Peppermente eet in die bed terwyl my ouma-hulle snork. Dit was ‘n besonder besige snorkaand en ek kon nie die situasie ontvlug nie. Soos ek heerlik lê en knars-knars aan my peperment hoor ek my oupa bulder: “Wie is daardie bees wat so herkou?” Hoe op aarde kon hy my gekou hoor deur hulle gesnork en wie is hulle om my stil te maak na ek aand na aand wakker lê en bid vir die slaap om my te kom haal. Dit is toe wat ek besef dat as mens getroud is, is alles wat jou maat doen al so deel van jou dat jy nie hulle foute sien of gesnork hoor nie.

Ons het deur die Golden Gate area teruggery. Ek weet nie of mens mooier kry as dit nie. Ek het in tussen na lekker gespeel en geswem in Aliwal-Noord, vergeet van my wrewelrigheid. Daarbenewens het ek myself beter geag as my susters, want min mense sou die marteling wat ek deurleef het met soveel grasie kon hanteer, het ek gedink. Met middagete by ‘n hotel in die Golden Gate het my oupa ons slukkies van sy bier laat drink en ons het baie groot gevoel. Die vakansie was amper verby. Ons het oor die Drakensberge gery en weer aangesluit by die N3. ‘n Behaaglikheid pak jou beet as jy so ‘n reis van etlike dae agter die blad het en jy sien uit om weer tuis te kom. Tuis by jou hondjie, jou bedjie en jou klein bestaan, knus en veilig.

Dit was die eerste groot reis waarop my ma ons geneem het. Hierdie keer was onderworpe aan haar ouers se wil, maar soos ons ouer geword het, het sy ons op etlike vakansies Kaap toe, Nelspruit toe en Vrystaat toe gevat. Sy was nie bang nie. My ma was eintlik nooit bang nie, want sy het haar gebed gesê en gery in geloof. As haar vier kinders uiteindelik hulle plekke in die motor met ‘n geskuif, gestoot en gestry ingeneem het en sy haar voet op die pedaal gesit het, het avontuur gevolg, maar is daar ook  terselfder tyd ‘n span engele ontplooi om dit wat skeef is reg te maak en ons bewus te maak van die wonder van samesyn. As ek terugdink aan my posisie agter in die kar en ek sien my ma so sterk soos staal agter die stuur, my ousus voor op haar selfgeproklameerde plek, my middelsus al stotend en stampend aan my opsoek na nog spasie wat haar eintlik toekom en my jongste ou sussie wat krom teen my lê met kwyl wat tussen haar verstrengelde vingers deurloop, dan besef ek dat die gees vasgevang in daardie motor was een van Liefde, ‘n unieke liefde van bo.

Sunday, July 1, 2018

Deur die lens van 'n oog gesien.


Ek het die week besoek gekry van ‘n vriendin – ‘n oud-kollega uit die verre noorde. Vir my is dit besonders, want hoewel ek al baie mense ontvang het aan huis was nie een van hulle my vriende nie, familie en my man se kollegas en vriende wel. Dus, dit was lekker dat iemand vir my kom kuier het. Ek wou haar tydjie so aangenaam as moontlik maak en haar na al die mooi plekkies in die omgewing vat. Aangesien sy graag na die wêreld deur die lens van ‘n kamera kyk, moes die plekke wat ons besoek het ook van so ‘n aard wees dat hulle vasgevang kon word. Ek was egter bekommerd of die breë omgewing nog enigsins foto-gereed was na die droogte. Niks het my voorberei op wat ek sou sien nie.

Vroeër vanjaar het ek iets geskryf oor die droogte in die Kaap en dat dit nie werklik net die water is wat opgedroog het nie, maar dat dit ook ons idees en ons vermoë tot selfvernuwing is wat opgedroog het. Soos Josef in sy droom voorspel het, het dit wel na sewe jaar weer begin reën en hoewel daar nog doemprofete onder ons is, wat dink die droogte sal nie gebreek word nie, weet meeste van ons saggies daar in ons onderbewussyn dat verligting uiteindelik gekom het. Die reën wat val is anderste.  Dit het vroeër as verlede jaar begin val en sagter.  Die druppels val nie in woede nie, maar in genade. Die reën val soos die woorde van ‘n ouer wat met ‘n kind praat na ‘n woede bui, sag en vergewensgesind, amper soos, kom ons probeer weer. Die natuur reaggeer op hierdie genade in dankbaarheid, dit glimlag, groei en gedy. Ek hoop dat die mensdom dieselfde waardering en nederigheid toon.

Groenigheid het elke heuwel en vlakte oortrek en plante wat vinnig hulle blom kan  voor die lente kan inkry, het aan die werk gespring. Die fynbos was ‘n bewys dat enigiets wat lewe, loutering nodig het om mooier en sterker as vroeër op te staan. Ek wat nie altyd ‘n natuurkyker is nie, was stoomgeslaan deur dit wat ek gesien het. Ek het my vriendin Bettysbaai toe gery, oor die Franschoekpas en by die Theewaterskloofdam verby. Dieselfde dam waarvan daar talle foto’s in ‘n kaal, brose en gekraakte toestand geneem is. Nou is die grond duidelik versadig met water en anti-sosiale plasse water lê los rond, maar ander vloei gesellig saam en laat die eens uitgeputte damvlak styg en nogmaals styg.

Ons rit was soos een in ‘n film. Jy trek weg en die tema musiek (voorsien deur my dogter) blêr hard in die motor, dan stop ons vinnig vir foto van die uitsig, die berg of die fynbos; spring weer terug in die motor, trek weg en die musiek hervat. Dit het ‘n hele paar keer gebeur. ‘n Mens ry heel anders as jy ry en op die uitkyk is vir kunstige afneembare tonele. Dit is effens moeilik, want almal se mooi is anders. Ek hou van ‘n toneel wat ‘n storie oproep, ‘n ander hou weer van ‘n toneel wat jou asem wegslaan en vir iemand anders, soos my ouma, moet daar altyd iemand bekend in die foto wees, sodat jy soos met ‘n maanlanding kan sê dat jy daar was. Gelukkig kon ons een van elke tipe skoot op die rit kry.

Die tog Bettysbaai toe was nie regtig my idee nie, want ek wou na Yzerfontein, maar my vriendin s’n. Sy het sentimentele redes gehad om daarheen te gaan en ek kon nie in haar pad staan nie. ‘n Jaar gelede in die knelling van die droogte het sy en haar broer haar pa se as in die Harold Potter Botaniestuin in Bettysbaai gestrooi. Hulle het daar ‘n spesiale en emosionele oomblik saamgedeel. Soos sy al vertel het, was haar pa ver van ‘n perfekte man (wie van ons is), maar hy was haar pa en sy afsterwe was soortvan in die middel van wat ‘n baie beproewende twee jaar vir haar was. Sy het afsluiting nodig gehad en ek het die voorreg gehad om dit moontlik te maak. Sy wou graag ‘n gedenkbankie vir haar pa in die tuin laat oprig en ons is daar in om die perfekte plek te soek. My kleintjie het heerlik langs die wandelpaadjies gespeel en soos ‘n feëtjie agter boomstomp en blaar weggekruip. Uiteindelik het ‘n mede-besoeker aan die botaniese tuin ‘n foto van ons voor die waterval geneem en dit was ‘n bewys dat ons daar was.



Ons het kuslangs teruggery.  Ek het soos James Bond gevoel wat al langs die kronkellende hange van die kus ry.  In die verte was Tafelberg sigbaar en die duiwel was daar weer aan die skaakspeel, want die rook van sy pyp het by die berghange afgerol. Onder ons het die koue seewater teen die klippe gebreek en seemeeue het periodiek verbygevlieg. Volgens my was dit ‘n fotografeerbare toneel. Ek het afgetrek by die eerste en beste klein strandjie. My vriendin, neuroties na sy vroeër vanjaar ‘n huisbraak oorleef het, was effens bang vir hierdie verlate inham. Haar vrees en herinneringe aan haar
ervaringe het in skrille kontras met die suiwere en ongekorrupteerde skoonheid van die kus gestaan. Dit is egter geleidelik gestil deur die rol van die branders. Heelwat asemrowende foto’s is by die klein strandjie geneem.

Ongelukkig is die beelde van die natuurskoon effens verdring toe ons deur die Strand, Somersetwes en uiteindelik Stellenbosch moes ry om by die huis te kom. Ai! Eens was hierdie mooi dorpies, maar nou is dit onder konstruksie, vol landgoede, golfbane en winkelsentrums.  Daar is te veel motors en te veel winkels en almal wil net nog ‘n kolletjie van die paradys koop, dat hulle nie kan sien dat die paradys lankal verlore is nie. Gelukkig het die Helshoogtepas weer skoner tonele opgelewer. Ons was amper weer tuis, nog net Paarl en dan Wellington.

Ek het haar op die laaste oggend van haar besoek by die Bainskloofpas opgevat – wat ‘n weggesteekte juweel! Daarna het ons die pad Doolhof toe gevat en by Welvanpas verbygery. Dit is ‘n beeldskone plaas.  Vir hierdie wynboer is kommersiële sukses nie ‘n punt op sy agenda nie en dit is hoekom die plaas en die omgewing nog natuurmooi is.  Doolhof self het baie vir die oog gebied. My vriendin het ‘n varkblom, wat alleen langs die pad geblom het afgeneem. Ek het weer die grondpad met die laning bome as die begin van ‘n ou Keur-fotoverhaal gesien. Weer eens wou my jongste net oral uitklim en haar verbeelding vlerke gee. Elke keer het ek haar teruggeroep en met ‘n strengstem in die kar in geboks, terug in die werklikheid in.

Ek moet my vriendin bedank, want ek was ook tydens haar besoekie weer ‘n besoeker in my eie omgewing, intens bewus van die skoonheid en die herlewing om my. Getrou aan myself is ek ook met ‘n tikkie hartseer gevul dat ons wat in hierdie mooi land bly nie altyd met mekaar oor die weg kan kom nie.  Daar is te veel praat oor besit van grond en alles wat mooi is. Ons wil in elke foto wees en ons vlag daar plant om te sê dat ons daar was en dit eintlik ons s’n is. Ons wil besit en bebou en geldmaak tot so ‘n mate dat ons die skoonheid vernietig. Ons kan nie net deel en geniet nie. Rykdom lê in die waarneming van die ongelooflike skoonheid en in jou verbeelding vlerke gee, soos ‘n kind, en gevoed terugkom na jy deur die tuin van Eden gestap het.

Vir nou sal ek egter dankbaar wees:  Dankbaar wees dat die reën nog nie ophou val het nie, dat die vlaktes in die plakkerskampe en op die setperke van die golfbane groen is. Dankbaar wees dat die voëltjies van tak tot tak kan vlieg en bessies eet. Dankbaar wees dat erdwurms bondeltjies grond opstoot en die grond voorberei vir die lente.  Dankbaar wees dat die bome verhale vertel van vrugbaarheid en oorlewing en nie van vlam en vlug nie. Ek gaan dankbaar wees vir goeie vriende en samesyn. Ek gaan nie vrees vir môre nie en ek gaan nie inkoop in haat en venyn nie, want wat ons het, het ons alles deur die genade.

Saturday, May 26, 2018

Om te gee


Om te gee: Die geval van die hande met geheue verlies.

Ek ry vanmiddag deur die gietende reën en dink aan die Bergrede en die oproep tot vyandsliefde:

Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.  Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor die wat reg doen en oor die wat verkeerd doen.  As julle net die liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag?   (Matt 5:43)

Ek dink dat God vir ons so mildelik gee, sonder om te diskrimineer en sonder om terug te hou en toe dink ek aan my ouma, eintlik beide van hulle, maar spesifiek die hoogdrawende een. Sy het altyd die gewoonte gehad om as sy vir iemand iets gee te sê: My linkerhand weet nie wat my regterhand doen nie. Dit het my laat wonder wie gebruik nog sulke uitdrukkings wat praat oor hande met ernstige geheue verlies. Ek weet hierdie sêding, soos so baie outydse sêgoed het hulle oorsprong in die Bybel en ek weet ou mense het dit soms gebruik om hulself dalk net so klein bietjie meer edel en op die regte pad te laat klink, maar ek dink nie ons ly sommer vandag meer aan hande met geheue verlies nie, ons Gumtree alles.  Ons vrygewigheid is die feit dat ons iets vir ‘n winskopie kan verkoop.

Of miskien is ek bietjie hard op my eie geslag, want is dit eintlik moontlik om te kan gee sonder om te onthou of rekord te hou? Sommige van julle gaan onmiddellik vir my sê dat dit geen probleem vir julle is nie.  Julle gee julle tiende ensomeer. Maar my hoogdrawende ouma het graag gegee en baie gegee. Sy het voorwaar baie vir ons gedoen, veral toe ons studente was, ek dink meer as vir die ander kleinkinders. As ons haar bedank het vanuit die diepste hoeke van ons hart het sy altyd gesê dat ons nie hoef te bekommer nie, want haar linkerhand weet nie wat haar regterhand doen nie. Dit moes ons gerusgestel het, maar ons het altyd gevoel dat al onthou haar hande dit nie, moes ons onthou hoe vrygewig sy was. Dit het ontvang moeilik gemaak.

Sy was altyd aan die beplan vir wie sy wat sal gee en haar grootste troefkaart van vrygewigheid was haar boedel.  Klaarblyklik is daar in haar familie vreeslik baie baklei oor die boedel van die afgestorwene.  Sy het verklaar dat dit benede haar is om oor sulke goed te baklei. Ek dink dit was, maar wat haar werklik met plesier gevul het, was die gedagte dat mense oor haar goedjies sal baklei.  Sy was so opgewonde daaroor dat ek Saterdag na Saterdag, wat ek gegaan het om broodnodige proviant te kry, moes aanhoor hoe sy hierdie teestel aan dié een gaan los en daardie teestel aan daardie een. Sy het om die waarheid te sê die teestelle gaan koop, sodat sy hulle eendag in haar boedel kan bemaak; sy het dit nooit gebruik nie.  So het ek geweet, wie wat gaan kry. Met haar afsterwe en die verdeling van die boedel het die teestelle verdwyn. Ek weet nie wie dit uiteindelik gekry het nie, want dit was benede my om gepla te wees. Tog moes haar linker- en regterhand dalk net meer gepla gewees het en dan het ek en sy dalk een koppie tee saam uit die beloofde teestel gedrink...

Natuurlik gaan gee saam met ontvang, as jy wil gee moet jy kan ontvang. Dit bring my by die ander outydse sêding, naamlik om ander in die oë te kyk. Hier kom my ander, meer plat op die aarde ouma in die prentjie.  Ek dink haar linkerhand het deeglik boekgehou van wat haar regterhand gedoen het.  Sy sou gee, maar daar moes balans wees tussen wat sy gee en jy gee. Die ekwilibrium moes nie versteur word nie, want die een moes die ander in die oë kon kyk. Sy het nooit daarvan gehou as sy jou iets geskuld het nie. As jy vir haar ‘n bottel Coca Cola gaan koop het vir R15.90 en sy het net R 15.80, sou sy dit nie aanvaar as jy haar van die 10 sent vryskeld nie.  Sy sou die volgende dag kom en haar skuld regmaak, selfs al moes sy tien afsonderlike eensentstukke daar voor jou aftel. Alles moes verreken kon word.  Ek weet die idee van jou skuld ten volle betaal kom ook uit die Bybel uit, maar soms moet mens net aanvaar dat ‘n ander wou gaaf wees.

Die vraag is seker na ek my twee oumas so krities bespreek het, waar staan ek op die kwessie van gee en ontvang. Ek... wel vir my is dit nie altyd so maklik om te gee nie.  Ek gee graag as ek iets het wat ek nie nodig het nie, maar moeilik as dit kom by die laaste twee lekkers in die pakkie. Julle moet my nie misverstaan betreffende my twee oumas nie, want eintlik staan hulle verhouding met gee en ontvang, in verhouding met ‘n jeug van arm groot word en nie het nie. My hoogdrawende ouma, was een van twaalf kinders (kan jy jouself indink...) in die tydperk van die armblanke vraagstuk. Dit was die tyd van welsyn, kospakkies en kleertjies uit meelsakkies.  Sy het vertel hoe sy die melk wat sy by die skool gekry het, gespaar het sodat haar ma melk in haar tee kon drink. Miskien het die bevrediging van so ‘n kosbare geskenk gee,  haar begeerte om te gee versterk. My plat op die aarde ouma het uit ‘n geskeide huis gekom. Haar ma was die enigste oorlewende van haar gesin wat dit uit die konsentrasiekampe gemaak het. Skindertonge moes geklap het oor die sondige vrou en haar drie kinders wat daar in die werkersklasarea van die Bluff gewoon het.  Nie een van my twee oumas wou graag bakhand of met die hoed in die hand staan nie. Hulle wou hulle kop omhoog hou en die wêreld in die oë kyk.

Sjoe! Na ek hierdie stuk geskryf het en deur ‘n paar Afrikaanse idiome beweeg het, het ek besef dat om te gee soveel meer is as om bloot eiendom of fisiese stukke te oorhandig.  Hoe ons gee vertel iets van wie ons is en waar ons vandaan kom.  Dit vertel iets van ons stryd om oorlewing, oor ons behoefte om ander bly te maak en ja, tog ons eie behoefte om spesiaal te voel. Om te gee, is eintlik, om ander so lief soos jouself te hê. Dus as ons volgende keer in die reën ry of in die son staan en braai en speel, moet ons onthou dat dit is hoe lief God die wêreld het, dat Hy gee sonder onderskeid...