Sjoe is definitief die woord vir ons tyd. Dit sê baie oor baie, maar kan nie in die hof teen jou gebruik word nie:
Wat sê jy oor 2020? “Sjoe! Ja, wat kan ek sê?...’Sjoe!’ “
Wat sê jy oor die sigarette en alkohol verbod? “Sjoe...”
Wat sê jy van die rassepolitiek in Suid-Afrika? Sjoe!
Wat sê jy oor party-politiek in Suid-Afrika? Sjoe...
Is daar enige party wat die belange van die burgers van die land bo party-belange stel: “Sjoe, dit is ‘n vraag. Ja, Sjoe!”
Sjoe! Wat nou? Waarheen nou? Want soveel soos wat sjoe ‘n woordjie met veeldoelige gebruike is, vat dit ons nêrens heen nie. Dit is ‘n reaksie en nie ‘n aksie nie.
Sjoe! ... Wel vir nou tot die gesprek, die diskoers, die verandering in ons begin opwel en ons meer as “sjoe” nodig het om tevrede te wees, gaan ek verder aan my oggend koffie drink. ... En sjoe, ek gaan bly wees dit Moca Java en nie Ricoffy is nie. Sjoe! Ek gaan daakbaar wees dat ek bestandele kan gaan koop om ‘n resep te volg en nie’n resep uitdink vir die bestandele wat ek het nie. Sjoe! Ek gaan waardeer dat, vir nou, ek ‘n dak oor my kop het, klere aan my lyf het, ‘n maat, drie dogters en twee honde in my lewe het.
Sjoe... op hierdie Sondagoggend gaan ek my nie bekommer oor die toekoms nie. Dit het gisteraand gereën en vanoggend is die hemel helder en skoon; die aarde gelukkig en gevoed. Sjoe! Die dag het ook weer aangebreek, soos gister en die dag daarvoor... en elke ander dag voor dit ver terug in die verlede, ver voor ek ‘n gedagte was. Om te dink die dag sal ook nog aanbreek in al die môres wat kom, dit sal nog aanbreek as ek reeds vergete soos stof saam met die wind waai.
Sjoe!
No comments:
Post a Comment