Tuesday, July 13, 2021

Lesse uit die geskiedenis: 'n Revolusie vang altyd sy baas...

 

Lesse uit die geskiedenis: ‘ n Revolusie vang altyd sy baas...

In die afgelope week het ek navorsing moes doen oor die dominante bewegings en denke in die vroeë 20ste eeu. Gevolglik swem begrippe soos die ewige revolusie en robuuste individualisme in my kop rond. Soos ek lees en skryf en beeldmateriaal soek, vertel my man my van die wêreld buite my deur en dan wonder ek weer in watter jaar begewe ek myself. ‘n Honderd jaar gelede klink soos vandag ...

In 1 Samuel in die Bybel waarsku God die mens oor konings en die gevolge van hul magslus. Natuurlik wou die mens nie luister nie, want die mens, soos konings soek mag. Deur al die eeue sukkel die mens om ‘n antwoord te kry op hoe om hierdie mag te hanteer. Telkens, dink hulle aan ‘n nuwe idee om genoeg kontrole maatreëls in te bou dat mag nie misbruik word nie. Sommige pogings is beter as ander, maar uiteindelik misluk hul tog. Die mens raak ‘n slagoffer van sy eie waan en magslus – misbruik, korrupsie en selfvoldaanheid neem oor.

Om my gewaarwordinge kort te hou wil ek vir nou net reflekteer oor die relevansie van die Bolsjevistiese revolusie.  Daar sit ek en skerp my kennis oor die Bolsjevistiese revolusie van 1917 op, en kon ek nie anders as om skalks te glimlag oor die ooreenkomste nie.  Tsaar Nicholas II was beslis nie die beste leier op die blok nie en die mense is uitgebuit, die adel het hulself verryk en die kleinboertjies het periodiek gesukkel om graan te kweek.  Die gewone Russe se tyd verdryf was om te praat van die onregverdigheid van die situasie en hoe ‘n revolusie nodig is. Baie van hulle was beïndruk met Marx se teorieë oor die diktatorskap van die proletariaat. Dit het fantasties geklink, maar een probleempie: Rusland was nie ‘n geïndustraliseerde land nie en daar was nie te veel proletariaat nie, net kleinboere. Hierdie tekortkoming was egter nie ‘n probleem vir iemand wat ‘n revolusie soek nie. Lenin, vader van die kommunistiese revolusie het homself beslis nie daardeur laat afsit nie. Die proletariaat het vinnig in ‘n vennootskap met die kleinboere getree en die revolusie is weer op die kaarte. Waarop dit eintlik neerkom is, as jy ‘n lus het vir mag en die status quo wil omverwerp, soek jy vir jouself die grootste groep sonder mag en gebruik hulle tot jou voordeel.

Koerante besing dikwels oomblikke van opstand as spontane aksies en die uitdrukking van die stem van die mense.  Die Februarie 1917 revolusie was so ‘n revolusie. Die mense was moeg vir swak regering, hulle was moeg vir die oorlog en hulle was moeg vir honger wees en niks hê nie. ‘n Demonstrasie op Internasionale Vrouedag ontaard toe in ‘n volskaalse revolsie, muitery in die weermag en die Tsaar wat abdikeer. Die ander in sy familie was nie lus vir die nonsens nie en het ‘n get-out-while-you-can houding gehad.


Wat nou? Die leierskap was weg soos die mense wou hê, maar wie gaan hulle nou lei? Hoe moet hulle gelei word? Mag dit as ‘n historiese gegewe oorgedra word as die geleentheid hom voordoen, sal die leier opdaag. Al beeld die koerante daardie man as ‘n edelle man van die oomblik uit, bewys geskiedenis altyd dat hy meestal net die geleentheid gebruik het om mag te bekom. Dit was ook, mynsinsiens, die geval met Lenin. Hy sê vir sy party, die Bolsjeviste (en geensins die meerderheid party in Rusland nie), dat die sosialistiese revolusie is op hande, hulle het nie die uitgerekte proses waaroor Marx geteoretiseer het, nodig nie, die revolusie kan nou plaasvind. Dit moet net gelei word deur professionele revolusionêres, wat in ons taal vertaal as ‘n groep narcisiste en psigopate wat weet hoe om die situasie uit te buit.

Die lank en die kort is ‘n tweede revolusie volg in Oktober.  Hierdie revolusie gaan oor hulle, die revolusionêres, se mag. Hulle vestig dit met ‘n burgeroolog. In die proses verhonger ‘n paar miljoen mense tot die punt wat hul aan mekaar se beedere begin knaag om aan die lewe te bly.  Weer volg ‘n spontane opstand van die mense, maar Lenin en manne is nie lus om mag prys te gee nie.  Hulle pas hul beleid aan, noem dit ‘n Nuwe Ekonomiese Beleid en gee die mense ‘n bietjie meer van wat hulle soek: vryheid en geleenthede. Ai! En daar sterf Lenin net soos hy dit begin regkry het om te besef dat leierskap nie net oor die maghebbers gaan nie, maar ook die mense.


Nou is dit ‘n magstryd. Revolsionêres op revolusionêres. In sy testament skryf Lenin dat Trotsky ‘n moontlike goeie leier sou wees as hy nie so vol van homself was nie, maar Stalin aan die ander kant moet liewer verwyder word uit sy posisie want hy is te onbeskof en behep met stelsels. Min het Lenin geweet dat daardie figuur, Stalin, wat altyd in die skadu saam met die revolusie beweeg het, sy volgende opvolger sou wees. Stalin was ‘n party man.  Hy was nie altyd opgelet deur ander nie en aan die begin jare van die revolusie is daar altyd ‘n posisie aan hom toegeken, maar hy was nooit ingetrek in die kalklig nie. Hy het homself egter as Sekretaris Generaal van die Party ingewerk by die partylede en ongetwyfeld meer as genoeg afpers-materiaal op almal vergader. Stalin se vestiging van mag was ‘n morsige storie en daar lê baie lyke in grafte met dolke in hul rûe. Stalin het egter nie teenstand geduld nie.  Hy het die wat hom teengestaan het, gediskriditeer, verban of net tereggestel.

Hy kon sy idees oor die sosialistiese revolusie begin toepas. In die proses is ‘n hele groep mense gelikwideer (‘n mooi woord vir uitgeroei en doodmaak). Daar het hierdie keer ongeveer vyf tot tien miljoen mense verhonger en weer het ‘n klompie aan mekaar se beendere begin knaag. Onmenslike teikens is gestel om Stalin se ideale te bereik. Nou moet mens by sê dat toe almal wat hom teengestaan het, dood is en die oorlewendes mooi begin saamwerk het, het die lewensstandaard in Rusland wel begin verbeter. Sal ons kan sê: Pappa Stalin het die antwoord gehad?

Na die lang storie wil ek nou ‘n vergelyking trek.  Dit is ‘n losse vergelyking en met wilde aannames, maar ek laat dit aan julle oor om te besluit of julle saamstem. Jare gelede het ons in Suid-Afrika ‘n revolusie gehad.  Die strate het gebrand, die Molotov-petrolbomme is gegooi. Daar was ‘n bewindsoorname wat ‘n onderhandelde vrede genoem is. Cyril Ramaphosa het homself destyds as ‘n skitterende onderhandelaar bewys. Vanuit die buiteland en verwyderd van die strate wat so gebrand het, het ‘n groep politieke revolusionêres soos Lenin en Trotsky teruggekeer na die land. Hulle is terug verwelkom deur hul kamerade, onder andere Jacob Zuma, wat nooit Afrika bodem verlaat het nie.

Die bewind na die eerste revolusie, het goed begin. Die revolusionêres kon buit uit die jare van industralisasie, opgeboude infrastruktuur en welvaard. Dit was ‘n periode van “cowboy economics” – as jy die geleentheid gebruik het, kon jy ryk word. As jy ‘n revolusionêre was, moes jy skep terwyl dit pap reën en tenders is aangegaan en kontrakte is geteken. Daar was praatjies van armes help, deur heverdeling en ontwikkeling asook herstrukturering en indiensneming. Niks wesenliks het daarvan gekom nie. ‘n Groep arm en ontmagte mense is handig vir professionele revolusionêrs en ‘n moontlike nuwe revolusie as dit gevra word...

Tans is die pad vorentoe vir die revolusionêres van die eerste revolusie troebel. Hulle het duidelik die pad begin byster raak toe Jacob Zuma jare terug in 2004 die eerste konferensie van die “Moral Regeneration Movement” geopen het. Wel sedertdien is dit opvolgstryde en buitery wat die pad vorentoe merk. Die blywende figuur bly egter oud-president Zuma wat arm begin het, ‘n party man was, getrou was aan Afrika-bodem en die krag van professionele revolutionêres en ‘n groot groep arm en ontmagte mense ken.

Daar laat ek julle met my lessie uit die verlede.  Maak daarvan wat julle wil. My laaste twee gedagtes is  geykte gedagtes: Hoe meer ons verander, hoe meer bly ons dieselfde en laastens, ons kan nie sê, ons is nie gewaarsku nie. Vir nou kan ons egter net bid dat die lydingsbeker van chaos by ons verby gaan, dat ons nie diegene is wat met ‘n dolk in die rug lê nie of opeindig om spreekwoordelik aan mekaar se beedere te knaag nie. Kom ons hoop en glo dat ons die geskiedenis kan transendeer.

3 comments:

  1. Jy stimuleer my denke en ek geniet jou weergawe van geskiedenis. As jy my onnie kon wees op skool, sou dit my n ryker mens maak!!!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie, die geskiedenis is baie relevant en ek besef dit al meer soos 'n sekere maatskappy my dwing om dit verteerbaar en interessant te probeer aanbied.

      Delete
  2. Baie interessant, Karen...ek kan nogals die ooreenkomste sien.

    ReplyDelete