Sunday, July 25, 2021

In die land van die blindes...

 

In die land van die blindes...


Ek wil vandag weer oor die geskiedenis skryf en die onderrig daarvan, maar ek wil eintlik breër praat oor ‘n tendens wat in ons onderwys en veral in geskiedenisonderrig ingetree het. Ek gaan julle dus nie vermaak met ‘n ligte vertelling van swaar geskiedenis nie, maar eerder vertel van die swaar werklikheid van geskiedenis wat in Suid-Afrika lig in die broek gemaak word.

In Suid-Afrika ly ons onder onderwys wat in baie gevalle nie op standaard is nie.  Dit is lig in die broek. Dit is egter nie omdat die kurikullum vereistes so laag is nie. Dit is ook nie omdat die inhoud wat daarin uitgespel is, nie relevant is nie. Dit is juis hoekom ons twee Suid-Afrikas in een onderwys-plan het – die skole wat onafhanklik die kurikullum se volle potensiaal uitleef en die wat die spookasem van die kurikullum eet. Daar raak ek aan die hartjie van die probleem, ons standaard is laag as gevolg van hoe die kurikullum toegepas word. In hierdie probleem deel almal (moenie in jou ontwerpershuis sit en dink jy is nie deel van die probleem nie).

Die realiteit is, in Suid-Afrika wil almal hoë punte hê.  Hulle wil punte hê wat nie noodwendig hul vermoëns reflekteer nie. Hulle weier om punte te aanvaar wat dalk meer realisties is, want dit is jou demokratiese reg om te stry oor die punt wat jou toegeken is. Dit is ook geweldig diskriminerend om die een uit te sonder en te sê dat daardie een se vermoëns swakker is as ‘n ander. Dus, die arme opvoeder moet aanpas en toetse begin opstel wat oor so min inhoud handel, en dan nog die leerder soveel moontlike voorafkennis van die toetsvrae en strekking darvan gee dat die toets inderwaarheid glad nie ‘n verrassing is nie. Uiteindelik toets jy die leerder oor bykans niks en jy vrae die vraag so maklik dat daar geen uitdaging is nie, net sodat jy kan sê die leerder het 80% behaal. Sjoe! Jy is ook slim. Die kind is tevrede, die ouer is tevrede en jy as onderwyser is tevrede dat die kind tevrede is en die ouer tevrede is, want dit maak die hoof, beheerliggaam en departement tevrede. Wonderlik! Maar het jy jou werk gedoen?

Ek moes deur die vakansie geskiedenis leermateriaal opstel en was genoop om met ‘n fynoog deur verskeie skool geskiedenis handboeke te lees. Ek was ontsteld. Ek het opnuut my irritasie verstaan wanneer ek vir ‘n les voorberei. Ek het ook daardie gevoel van irrelevansie wat ek so dikwels voor die klas ervaar, verstaan. Ek weet dat my vak uiters belangrik is. Ek weet dat my vak kritiese landsburgers voorberei. Ek weet dat my vak kan leerders voorberei om sosiale kwessies aan te spreek, eensydigheid te sien en op “objektiewe” manier te begin soek vir oorsake en gevolge en moontlike oplossings. Dit is egter net ek wat dit weet. As ek die handboek opslaan en die storie wat daarbinne staan aan die leerders moet leer, word my ballon gebars.  Dit is net wol, die handboeke is vol wollerige stories. Daar is baie byvoeglike naamwoorde en nes jy dink hulle gaan nou ‘n stelling met gegewens ondersteun, ondersteun hulle dit met nog aannames. Skielik weet jy nie wat om vir jou klas te leer nie. Jy is genoop om wol te leer en die feite wat jy daar het reduseer ongelooflik maklik.  Dit wat daar is, is net te min en irrelevant om te toets. “Wol” word dus getoets.

As ek egter gevra word om onafhanklike notas op te stel, soos ek ook vir my klasse uiteindelik opstel as die tyd my dit vergun, moet dit behoorlike notas wees. Ek het gevolglik oor baie van die punte in ons handboeke moes gaan ondersoek instel, net sodat ek stellings met feite kan ondersteun. Byvoorbeeld as die begrip “Afrika Sosialisme” gebruik word, wat bedoel hulle daarmee. Dankie Kwame Nkrumah dat jy dit self vir my so duidelik en indrukwekkend kon definieer. Ek moet egter ween as ek sê dat die inhoude van oorsese geskiedenis kursusse net veel meer om die lyf het, selfs oor die temas wat Suid-Afrika en Afrika direk raak. Hulle onderskat nie hul leerders nie. Dit is wat ons doen. Tog, miskien is dit nie al wat ons in Suid-Afrikaanse skoolhandboeke doen nie. Ons vee ook alles skoon. Ons vertel die storie wat ons wil vertel om die hedendaagse politieke agenda te dien en feite staan in die pad van so ‘n storie. Dit is hoekom ek voor die klas met ‘n bek vol tande staan. Dit is hoekom ek my vak irrelevant maak.

Die absolute tragedie is dat hulle leerders werklik ontneem van die leer van interessante geskiedenis. Ek is byvoorbeeld nie mal daaroor om Afrika geskiedenis te onderrig nie, omdat daar min ondersteunende materiaal is en baie van die materiaal wat onmiddellik tot mens se beskikking via die internet is, net propagandisties is.  As mens egter vasbyt, kry jy fantastiese en insiggewende bronne wat nuwe klasgesprekke sal ontketen en leerders in ‘n ander lig na Afrika geskiedenis laat kyk. Ongelukkig met die handboek wat ‘n ander naratief in die geskiedenis wil inskryf, is dit onmoontlik om trots te wees en begrip te toon vir waar ons vandaan kom.

Dikwels is die kontras tussen waar die Afrika bevrydingsorganisasies in denke al daardie dekades terug was en hoe bevryding en dekolonisasie ontvou het, nie ‘n gemaklike realiteit vir hedendaagse maghebbers nie. Die verhaal word dus herskryf op so ‘n wyse dat geen van die geskiedenis jou interesseer nie en niemand met trots of vrae gevul word nie. ‘n Komplekse geskiedenis word dan maklik vir die leerders aangebied. Mag die Duitsers maar toegelaat gewees het om daardie luukse betreffende hulle eie geskiedenis te gehad het.

Na my vakansie van leermateriaal opstel is ek bitterlik moeg, maar ook opgewonde en hartseer.  Ek is opgewonde oor die relevansie van my vakgebied, soos ek in vorige skrywes al aangedui het, maar ek is hartseer oor hoe geskiedenis nasionaal aangebied word.  Ek is hartseer oor hoe ons leerders se vermoëns onderskat word. Ek is hartseer oor hoe ons wollerig verpakte geskiedenis die era van wollerige akademiese realiteite versinnebeeld. Ek weet ons is tot meer in staat. Ek weet ons leerder is slimmer as wat gedink word. Ek weet, as ouers en die staat ophou vra watter punt het jy behaal en eerder vra vertel my wat jy geleer het, sal ons swaargewigte grootmaak wat nie in die globale wêreld so irrelevant en lig in die broek hoef te voel nie.

No comments:

Post a Comment